Here you are – an Afrikaans
e book – the first one I have ever seen on the internet.
Om 05:36 hardloop die vrou
teen die hang van Leeukop. Sy is jonk, beeldskoon, Amerikaans - en beangs. Sy
word soos 'n dier gejag deur mans wat net ure gelede haar beste vriendin se
keel afgesny het.
Om 05:43 bel hulle vir
speurder-inspekteur Bennie Griessel wakker. Hy moet kom, 'n jong meisie se lyk
le langs St. Martini, die Lutherse kerk bo in Langstraat.
Die vorige aand nog het hy
gedink dit gaan vir hom 'n spesiale dag wees: Die begin van 'n nuwe era in sy
loopbaan, as mentor van 'n groep jong swart en bruin speurders. En hy verwag
nuus oor sy bevordering. 'Kaptein Bennie Griessel'. Dit klink vir hom reg.
Behoort 'n redelik normale dag te wees. Tot sy jong span polisiemense begin
stry, baklei, struikel. Met die kerkmoord. Met die middeljarige, alkoholis-vrou
wat haar man, 'n groot gees in die Afrikaanse musiekbedryf, twee keer met sy
eie pistool deur die hart geboor het. Met die soektog na die Amerikaanse
toeris.
Terwyl die diplomatieke telefoonlyne vuurwarm
gebel word en selfs die Minister begin druk toepas, sodat die hele mentor-ding
soos mis voor die son verdwyn en Griessel self moet inklim om die gemors te
probeer red.
Om nie eens te praat van sy
persoonlike probleme nie.Sy bankrekening lyk sleg, hy stoei nog met die
dranklus, sy vervreemde vrou Anna bel uit die bloute en se vanaand is die aand
dat hulle oor die toekoms moet gesels. Weet sy van die 26-jarige
rekenaartegnikus met die aansienlike borste wat hy gisteraand, in 'n oomblik
van swakheid, op sy sitkamerbank beetgekry het?
Boonop kondig sy vriend en kollega Mat Joubert
aan dat hy die SAPS gaan verlaat, en dan bel sy seun Fritz met die nuus dat hy
klaar is met skool, hy gaan kitaarspeler word in 'n rock-groep met die naam van
'Wet & Orde'. En dan, net wanneer hy op die punt staan om die Amerikaanse
meisie te red, skiet hulle vir Bennie Griessel. Reg in die hart.
Redelik normale dag, jou
tipiese dertien uur van Suid-Afrikaanse wetstoepassing.